Baie van ons praat Afrikaans, maar is sku om in Afrikaans te skryf. Laat ek maar geskiedenis maak om ‘n kort boodskappie in Afrikaans te skryf.
Saterdag, 4 Desember 2010, was voorwaar ‘n historiese gebeurtenis vir my en my vroutjie. Dit was beslis een van die groot hoogtepunte in ons huwelik van bykans 30 jaar. Saterdagoggend het ons vir die eerste keer in ons leeftyd – beide van ons is al in ons vyftiger jare – ingeskryf vir die 10km draf en dit met sukses voltooi. Ons tyd was nie waffers nie, juis omdat ons sowat 40 minute laat by die beginstreep opgedaag het, te wyte aan die uiters druk verkeer op pad daarheen. Ons wou nie terugdraai nie, want ons het vooraf aangedui dat ons wel aan die wedloop sou deelneem.
Die draf was nie te moeilik nie, maar was dit nie vir die puik voorbereiding en wenke deur afrigters Whaleed en Farouk, sou ons dit weliswaar nie gemaak het nie. Dit was veral Whaleed wat ons die afgelope 6 weke goed voorberei het, en ons is aan hom baie dank verskuldig vir die aanmoediging en knap wenke wat ons van hom ontvang het.
Die laaste steilte van die wedloop het nogal baie inspanning geverg, maar die vreugdevolle ontvangs wat ons by die wenstreep ontvang het, het die geswoeg en pyn onmiddellik iets van die verlede gemaak. Baie dankie aan Naz en die ander Itheko-ers wat vir ons toegejuig het toe ons by die wenstreep aangekom het. Amper het ek vergeet om oor die wenstreep te gaan – so bly was ek om hulle te sien en te hoor.
Baie dankie vir die lekker vrugte en koeldranke by die Itheko-kampie. Ek is beslis nie spyt dat ek by Itheko aangesluit het nie. Dit is iets meer as net ‘n drafklub – dit is ‘n sportgesin met baie vriendelike en behulpsame mense.
Die dag sal vir my onvergeetlik bly. Wie het ooit kon dink dat ‘n wonderwerk sou gebeur – byna op aftree-ouderdom sluit ek en my vroutjie aan by ‘n drafklub en voltooi ‘n 10km-wedloop na ongeveer 6 weke se oefening. Omdat ons nog nooit voorheen gehardloop het nie, kan ander mense nie glo dat ons die onmoontlike reggekry het nie. Wonderwerke gebeur nog steeds!
Viva Itheko!
Ammie


Twitter
Picasa
Youtube
Flickr
Facebook